Saturday, October 30, 2010

Sjaka en Melanie Lungarno...







Juweliersware, een van 'n soort, handgemaak, is so eie aan Ponte Vecchio ('die ou brug' op die foto) as wat dit kom. Die foto's doen die juweliersware hoegenaamd nie gunste nie, dis so ontsettend fyn en mooi.

Ons twee het hierdie keer by Ponte Vecchio regs geswaai en al langs die Arnorivier afgestap tot by die George Washington park. Die stad raak minder stad en als raak groener en jy kan skielik sien dat herfs in volle swang is. Polisie op perde (massiewe perde) ry deur die park en vra mense vir ID, en skryf boetes uit as jy dit nie by jou het nie. Hulle vra nie mense wat soos ons lyk nie, hulle blyk net mense van 'n donkerder gelaat te vra. Italia is in hierdie opsig redelik duidelik in die greep van 'n regse party.

Sjaka gaan draf elke oggend, en bekla sy lot dat hy nooit ander drawwers sien nie. Hier vind ons toe die draf-hub, en interessant genoeg, omtrent 9 uit 10 van die hordes wat hardloop is mans wat so in hulle 60's blyk te wees. Sien nie eintlik die braai en boep brigade in SA skielik bein hardloop nie...Verder poep die honde en die eienaars haal maar gedwee die sakkies uit. Gepraat van poep. Naby ons is daar 'n publieke toilet waar die in nood vir 'n skamele €0.60 hulleself kan verlig. Die outjie wat die storie bestuur daar is 'n Japannesie en hy sit elke goddelike dag daar, van omtrent 8am tot saans 10pm, op dieselfde stoel, vat nou en dan 'n smoke break, en mop nou en dan die vloer. Nou toe nou, iemand moet dit seker doen...

Ali en die nuutste op die kosfront




Ons het vir Ali prentjies en woordjies bymekaargesit, soos propperse Sub A's, als in Italiaans, wat ons families illustreer, wat hulle almal doen en waar hulle bly, en ook wat ons self doen in SA. Hy was mal daaroor, en het by ons voordeur kom klop met fototjies van sy twee dogters. Bitterlik oulik.

Ons het 'n paar dae later vir hom 'n pakkie springbokbiltong gegee, ook uit arme Elize wat naby Lake Garda bly, se stash wat ons vir haar saamgebring het. (Ons het ook al in 'n oomblik van swakheid op die lughawe in Doha een van haar Peppermint Crisps verorber...) Ek het my woordeboek nadergesleep en verduidelik oor wildsvleis, en aangesien Springok nie in die woordeboek was nie, het ek maar manually 'spring' en 'jump' en 'buck' aanmekaargestring, en my beste impersonasie gedoen van 'n springbok wat pronk. Nice. En ou Ali het gelag dat hy paap en ge'si, si, si!'. Ek het ook verduidelik in maniese mimiek van 'skeur die pakkie oop en eet net so' of 'sprinkel' en dan in gebroke italiaans 'insalata' en 'cream cheese'.
'Si Si! Cream chezz' gooi hy terug. Nou toe nou, ons sal seker nog hoor wat die ou daarvan maak. Giovanni van Helikos het droewors geproe in SA, en hy was hoegenaamd nie erg daarop nie...

Hy het intussen vir 'n paar dae verdwyn, en ons het 'n ligte depressie ervaar, angstig aan't wonder of ons ooit weer kos sal kry... Maar al laggend het die ou weer verskyn en ons toe weer gevoer. Twee keer was daar pizza, en die tweede keer (gisteraand) was daar in die middel van ons elkeen se pizza 'n vet gemarineerde, gespeseryde artisjok. Ek dink ek sal voortaan werk bloot om artisjokke te koop en elke dag te eet. Daar was ook s0 'n geel dik sop storie, met miniskule pastaryskorrels, sekerlik 'n soort groente, aartappel wat fyn is, ek weet nie, maar heerlik. Daar was seekosrisotto, met clams, mossels, shrimps, vis, the works.

Uiteindelik kan julle ook sien hoe Ali lyk, ons gaan daai gevreetjie (en daai kos...) baie mis.


Lees- en snoesfees

Die afgelope ruk het ons baie tyd in die woonstel deurgebring. Het 'n boekwinkel ontdek waar ons Engelse boeke vir enige iets van €0.50 tot €2.00 kan kry, en ons het die meeste daarvan, en van die koue nat weer gemaak. Sjaka is die amptelike pannekoek en sopkoning, en onder die komberse het ons sy comfort food verslind, al lesende aan:

Ben Elton: Past Mortem. Koop dit, neem dit uit, lees dit. Super pret en hou jou wakker snags, al lesend tot 3am terwyl die man slaap.

Ken Follett: Pillars of the Earth - ek was nie so geweldig opgemaak daarmee soos Oprah nie. Dan ook, ek is oor meeste dinge nie so opgemaak soos Oprah nie...

Anthony Kiedis: Scar Tissue. My niggie Simone is 'n groot fan van die boek, en ek het dit ook geniet.

Kate Morton: The House at Riverton. Ek het 'n traan gepink so 20 bladsye voor die einde. En my ouma ontsettend baie gemis. Ek het respek vir iemand wat met so 'n sterk roman debuteer.

Ann Patchett: The Patron Saint of Liars. Koop dit, neem dit uit, lees dit. Ek was mal daaroor, mal daaroor. Die kompleksiteit van ma en dogter verhoudings word op 'n interessante manier uitgebeeld.

En dan Osho se Sex Matters. Die ou maak interessante punte, maar ek vind dit moeilik om sy intelligensie ernstig op te neem, sy argumente begin wankelrig en die gevolgtrekkings waarby hy uitkom is noodwendig flawed. Maar vir die wat hou daarvan om meegesleur te word in quasi zen touchy feely mag dit dalk interessant wees. As jy egter wyd lees, iets van antropologie of wetenskap weet, bly weg.

Sjaka het by tye vies geraak want as ek begin lees verdwyn als om my en ek kan letterlik dae omlees. So nou gaan ek nie verder boeke koop nie, 'n week se voltyds and then some lees was nou eers genoeg, wel, genoeg as jy nog enigsins tyd aan jou geliefde wil spandeer...en die stad nog wil geniet...

Drolman en 'n sekere vorm van Italianer wat ek nie vang nie

Die Italianers is 'n gawe lot, maar daar is 'n tipe reaksie wat ons al 'n paar maal gekry het en waar en 'n kulturele gaping ervaar. Wel, ek dink dis wat dit is, anders is dit bloot 'n vorm van plein ou gewone onbeskoftheid wat mens inelkgeval oral en altyd sal kry met sekere mense.

Insident nommer een was by die mark. Dis 'n Chinese vrou, maar sy is ook Italiaans. Sy het 'n groente en vrugte stalletjie, en dis selfhelp. Ek reik uit na 'n tamatie en sy is ook nie hoe nie, sy val weg met klanke wat soos 'n gebraak klink, al roggelend uit haar keel. Ek besef sy roggel vir my toe sy nader kom en my hand wegpluk van die tamatie. 'No squeezy! No squeezy!' skree sy op my. Simpel vroumens, ek is dan besig met selfhelp - elke dag kry ek tamaties daar. Ek kry ook nie heeltemal my vurige natuur onder beheer nie, en snou haar toe: 'I NOT squeezy! I take to BUY silly woman!' Die laaste twee woorde nie gesensor nie want sy verstaan inelkgeval nie. Koop die tamaties en slenter weg in 'n wolk van bedonnerdheid.

Paar dae later stap ek die stad weer plat en gaan in by 'n pragtige winkeltjie wat buite hulle deur gratis wyn- en olyfolie proe adverteer. Die klokkie tingeling soos ek die swaar houtdeur oopswaai en binne is 'n toergroep Amerikaners besig om te proe en te knibbel aan allerhande broodjies wat met die proe saamgaan. Op my FB is daar die einste foto wat toe die onaangename smakie in my mond gelaat het na 'n semi-gesprek met die eienaar.

Daar is die mooiste, duurste bottels balsamieke asyn op die rakke uitgestal, en 'n spesifieke bottel trek my aandag. Ek sien nie ander mense in die winkel wat fotos neem nie, en my ervarings in baie lande het my geleer om altyd te vra of dit okay sal wees om 'n foto te neem voor ek triggerhappy raak. Ek vra toe die ou, en hy kyk my aan of ek hom vra of ek 'n nommer twee kan maak op sy proetoonbank. Hy vra: 'Why do you ask me? I can say no all the time.' Sonder 'n sweempie van ironie of speelsheid of terg op sy suur gesig. Ek verduidelik dis geen probleem en is oorbluf met sy reaksie. Hy val weer weg: 'WHY do you want to take a picture in my shop?' Nee meneer, laat vaar jou paranoia, 'I think the design on the bottle is beautiful, that's all. Don't worry about it.' Tot my verbasing stem hy in. Ek kon eenvoudig nie sy skerp reaksie verstaan nie. Liewe hel, mens kan mos maar net ja of nee antwoord. Suur, suur mannetjie.

Al die fantastiese Italianers en die warm ontvangs en die dik bederf wat ons van soveel ander ervaar het, maak natuurlik duisend maal oor op vir hierdie tipe onsmaaklikhede...

Tuesday, October 19, 2010

Tongtintelende truffels en tongknopers




Sjaka is soggens voor my uit die vere, en gisteroggend was geen uitsondering nie. Ali en hy praat gebroke Itali-engels met mekaar deur die venster en dit is soos 'n wekker vir my soggens. Sjaka kom die donker slaapkamer in met nog 'n baksel sjokolade- en vanielje vlagevulde klein croissaint'jies. Daar is ses in totaal, maar ek vind - ten spyte van my lewenslage proklamasies dat iets wat te ryk of te geil is nog nie oor my lippe is nie - dat ek nie soggens eerste ding in die pastries kan inklim nie. So Sjaka verorber vier van die ses, en ek en hy drink beide 'n espresso oor 'n paar potte rummie, terwyl ek hom vertel van my droom van die vorige nag. Vir die afgelope drie of vier nagte droom ek feature films in totaliteit, en ek is nie min beindruk met my onderbewussyn nie.

My ontbyt was oplaas toe 'n sjokolade kroestandjie en 'n halwe blok Novi sjokolade. Ja, 'n halwe slab, vir die wat wonder. Italiaanse sjokolade is hoegenaamd nie sleg nie. Na al die soet besluit ek om die stad in te vaar en vind my pad langs die Duomo en die Palazzo Vecchio verby tot ek my langs die oewers van die Arno rivier, wat deur Florence vloei, bevind. Stap verder as wat ek ooit het in die stad, en dit bly verstommend mooi om die Florentynse digbegroeide heuwels in en net om die stad te sien. Daar is baie mense wat met hulle honde stap in die stad, en ek reken meeste van hulle is getroue poopscoopers, maar die res is nie...opkyk en rondkyk vir fotoneem is nie erg bevorderlik vir hondpoepvermyding nie. So ja, laat dit maar daar.

In Via dei Malcontenti swaai ek in, glimlaggend onder die sjarme van wat ek dink beteken 'Street of discontent'. Dis stil, verweer en nie 'n siel is in sig nie. Hier tref ek die kleinste, rooiste afleweringstrokkie aan wat ek nog in my dag des lewens gesien het. Ek is so verlief met eerste oogopslag dat ek 'n ou omie wat aagestap kom nader roep, al armswaaiend en roggelend in my gebroke Italiaans. Ek vra of hy 'n foto sal neem van my by die trokkie, bietjie skaam oor my voortvarendheid, maar gedetermineerd. Hoe meer ek beduie hy moet neem, hoe meer beduie-vra hy of hy by die trokkie moet staan. Ek 'si si' oplaas, en hy haal 'n sleutel uit sy baadjiesak - dis die einste omie se voertuig.

Hy is ook nie hoe nie, hy val weg in Italiaans, ek 'non parlo Italiano, sono piu Italiano' met handgebare wat 'n sentimeter tussen twee vingers illustreer, maar onse Guisseppe steur vir hom min. Hy probeer my iets vertel van Via dei Malcontenti, en ek verstaan iets van 3 000 jaar, of is dit 1300 jaar? Hy haal ook 'n stukkie papier uit en skryf dat die biesies bewe. Ek verstaan wel dat hy probeer om my iets van die geskiedenis te vertel rakende Via dei Malcontenti, maar wat dit is, is bo my vuurmaakplek. By die huis gekom probeer ek sy skrif ontsyfer, maar daarmee kom ek ook nie ver nie. Het op Wikipedia gaan kyk na aanleiding van die bietjie van wat ek verstaan, maar daar is niks. Ek lei egter af dat of in die jaar 1300, of 1300 jaar gelede, of dalk het 1300 mense daarlangs afgemarsjeer en iemand tot dood veroordeel of is iemand se lewe daar kortgeknip, en ek dink ook iets van brandende fakkels is ter sprake. Enige iemand wat kan lig werp hierop is welkom om so te doen.

Toe ek so net voor 4pm by die huis kom, is daar geen teken van onse Sjaka nie, en op die kombuistafeltjie staan twee borde kos elk met 'n sopbak bo-oor. Lig op en daar is hoender en aartappel, in wat vir my lyk en ruik soos 'n knoffelbottersousie. Dit ruik hemels, en selfs meer so toe dit uit die mikrogolfoond kom. Ek is ook nie hoe nie en val weg, rasend honger en selfs meer lus na 'n hele dag se rondmission. Ali verskyn weldra in die venster en ek vra hom of dit knoffel, witwyn, botter is? En ek wonder en vra wat nog? Ek kan dit nie plaas nie, maar dit is erg stimulerend. Geen knoffel, geen botter, geen wyn, verseker hy my. Ek roem my nogal op my tongtippietoets vermoens en dat ek al wat 'n ding is kan uitsnuffel. Dit draai uit dat ek nie die snuffelkoningin is wat ek dink nie, maar dat daardie eer eerder aan die varke behoort...dis nou die varke wat die truffels uitgesnuffel waarvan die sous gemaak is. So dan is die hordes klein bruin spikkels in die sous niks anders as truffels nie. Dis die eerste keer wat ek 'n gereg met truffels - full on truffels mense, nie net 'n infused olie nie - eet, en dit is eenvoudig iets uit 'n ander dimensie. Die hoender en die pangeroosterde aartappeltjies is so eenvoudig berei, en goed so, want die truffels het nie nodig om te kompeteer met iets nie. It is unto itself magnificent.

Vandag is die kombuis stil en ek het nog nie vir Ali gewaar nie. Wat ek wel oor hom kan byvoeg is wat Sjaka en hy gister oor gepraat het. Ali is oorspronklik van Egipte, en hy is al 22 jaar in Italia. Hy het gekom toe hy 18 was, en beide sy ouers en sy suster is al oorlede. Hy het twee dogters, die een is 15 en die ander is 2 jaar oud. Sjaka het vertel dat hy ook wou weet of ons kinders het, en vir wat ons dan nog nie het nie. Hy wil ook sommer weet wanneer ons nou dan gaan opskud, no pun intended. Sjaka verseker hom dit gaan sommer baie gou wees. Ek verseker Sjaka dit gaan sommer nog 'n rukkie wees. Lief die idee, maar ek vermoed mens het 'n budget nodig om al daai doeke en skoolgeld te betaal.

Die internetwinkel waarvandaan ek operate word besit en bedryf deur Italianers wat hierheen gekom het van Bangladesh, en die main konyn het die mees esquisitely obvious toupee wat ek in my lewe gesien het. All in a day's work, ek gaan nou na ons apartamento vir salami, brood en olywe wat daai lekkerpit Sjaka vir ons gaan koop het.

Sal in my volgende skrywe vertel van die drolman by die olyf- en wynproe.

Ciao mi amici!

Sunday, October 17, 2010

Helikospartytjie, die effense hangoor en die wild boar pasta

Gisteraand (Saterdag 16 Okt) het ons die openingspartytjie van die teaterskool waar Sjaka sou studeer (as hy nie net 'n visa vir 1 maand i.p.v. 6 gekry het nie, verdomde beurokrasie!). Dis 'n plek waar professionele teatermense verdere opleiding kry, en o.a. ook om narre/clowns te word. Dis nogal te goed vir woorde, gaan kyk bietjie by http://www.helikos.com/ Die gashere was Italiaans - Giovanni Fussetti en Giorgia Gambone, en die gaste was inwoners van Florence en omgewing en dan ook die groep studente wat die volgende 6 maande met Giovanni sal werk by Helikos. Die groep bestaan uit kunstenaars van Denemarke, Noorwee (as ek die insert knoppie kan kry, sal ek beter kan spel), Amerika, Nieu Zeeland, Suid Afrika, Italie en Frankryk.

Daar gekom was daar massiewe bottels chianti - van die met die strooimandjie gevleg om die onderste derde van die bottel, en orals was borde uitgesit met die heerlikste vars brokke parmesaan, prosciutto (ek was kronies by lg.), snye ciabatta, groot, plomp groen druiwe en klein geroosterde tamatietertjies. Helikos het 'n uitstalling van hulle werksaamhede gehad en almal het heel beskaafd gemingle vir die eerste ruk.

Toe raak dit tyd vir die amptelike opening, en Giovanni het laat waai met die geskiedenis van die skool en die invloede wat hom gebring het tot waar hy vandag is. (Hy is 'n absolute meester van fiskieke teater en clowning - en word omtrent aanbid deur studente van regoor die aardbol...) Daar is ook vooraf 'n lys omgestuur waarop almal wat iets wou perform om die skool op sy nuwe reis in te lei. Sjaka is ook nie hoe nie, en kom vertel my hy het my naam ook op die lys sodat ek 'n paar songs kan doen. Probleem is, my kitaar is by ons 'apartamento' wat omtrent 20 minute se stap van Helikos is. Dit begin to so liggies motreen, maar Sjaka laat hom nie afsit nie - hy wil my opsluit sien speel en begin voeteklap om die kitaar te gaan haal. Hy was skaars 3 minute weg toe die swaarste buie uit die hemel begin sak wat ons nog gesien het van ons hier is. En ons het nog nie 'n sambreel (ombrelli!) gekoop nie...

Hoe langer hy wegbly, hoe meer krimp my hart ineen vir sy part - en toe ook nie verniet nie. Toe hy omtrent 40 minute later weer terug is (omtrent net betyds vir die performances se begin), lyk hy toe soos 'n bedremmelde kat wat onderdompel is in 'n kom water. Maar die ou se entoesiasme kon nie gedemp word nie, ook nie deur die ontsettende groot teleurstelling dat hy nie saam met die mense daar kan werk en leer vir die volgende 6 maande nie. Tipies ZenSjaka hou hy die blink kant bo, maar toe dit sy beurt was om te perform en hy 'n gedig van hom voorlees, kon jy 'n speld hoor val en na die einde van die gedig se kant toe het baie mense in die gehoor se trane net so vlak soos syne opgedam. So, vir oulaas sal ek dit uitbasuin en dan dit van my afskud:

Hel toe met al die beurokratiese rompslomp en al die mense by die Italiaanse konsulaat in Kaapstad wat omtrent op 'n driedaagse basis vir mens ander regulasies gee, almal verskillend van mekaar, en ook alles verskillend van wat op die amptelike webtuiste gegee word. Sies vir hulle dikbek, stywelip, onetiese maniere van doen. En ga sies man dat hulle so kleinlik was en die klein bietjie mag wat hulle oor ons gehad het, misbruik het. Amen, tot daar toe dan. Ek's klaar gebitch daaroor.

Terug by die partytjie - die rooiwyn, sjampanje (ja, die regte ding, nikse ge-sparkling wine nie) en witwyn het gevloei in die gees van Dionisus, en halfpad deur die aand was daar nog quiches ook - waarvan 'n ertjie quiche my mond behoorlik laat water het. Performances het goedgegaan, my songs het baie goed afgegaan, en ek was natuurlik nie min gelukkig daaroor nie.

Gisteraand sleep ek en Sjaka met ligte harte teen 'n redelik onbeskeie uur by die apartamento in, en vanoggend word ons wakker met 'n effense nadorsie en 'n ligte dofheid om die slape...en ons crave vleis, eiers, enige proteien...en al wat uitkom is onse Ali. Dinge in die kombuis van La Mama Trattoria is stil en die vensters se luike is bot toe. So ons kry onsself reg om eiers, ciabatta en kaas en lemoensap te gaan koop. Ons is al amper by die deur toe Ali se stem uit die ristorante opklink: 'Ciao!? Buon Giorno!?' Ons harte bokspring en ons speekselkliere begin lustig aan die gang kom.

'When you were?!' wil hy weet. 'You go!?'
Ja Ali, 'Sjaka studiare', 'scuola teatro internazionale' en 'big party' probeer ek verduidelik. Hy is ook sy gewone self met 'n bakkies op hom wat 'n glimlag dra van hier tot Timbuktoe. Ons was eintlik die vorige dag heeltyd uit - ons het gaan help om die uitstallings en goed reg te kry by Helikos. So ons het heeldag gegis oor of en wat ons dalk by Ali sou kry as ons by die huis was...praat van Pavlov se hondjies hoor.

Ali 'uno momento' en 'scusi' en verdwyn uit ons sig. Binne 'n japtrap is hy terug met die grootste hope stomende pasta op 2 borde wat ek in my dag des lewens gesien het - en ek is berug vir my moerske porsies. So ja, dis 'n tagliatelle (self gemaak deur Ali, natuurlik) wat so fyn en plat is dat jy amper deur dit sien. Lig soos veertjies. Nog nooit sulke pasta beleef nie. Ons bedank 'grazie mille' voor en agter, terwyl hy sy vingerpunte tot by sy lippe bring, dit lipsmakkende soene gee en vir ons met sy oe na die pasta beduie en dit aanhoudend 'buono, buono' toeroep.

Kyk, die man weet wat hy doen. Die pasta het gemaalde bief in, en dan ook stukkies vleis, en al eet eet kan maar net nie my vinger daarop kry nie. Ek proe wildsvleis, rooiwyn, en speserye wat ons nie gewoonlik by wild sit nie - beslis nie naeltjies nie. Dit was hemels en ek kan myself nie beteuel nie. Ek staan op en roep by die venster na Ali. Hy verskyn ook ala pronto en ek vra: 'il carne e...?'

Hy beduie van sy bolip af al krullende patrone en gooi dit 'porce, porce'. So dis dan uiteindelik ons eerste kennismaking met die befaamde wildevark wat net in Toskane voorkom! Absoluut heerlik, so sag en geurig, en die kombinasie daarvan met rooiwyn (hoewel daar nie 'n souserigheid oor die dis is nie, daar is nie eens 'n dun rooi vloeistof, of enige iets wat verraai hoe hy daai smaak daar kry nie!) was net eenvoudig fenomenaal. Vanmiddag, en toe vanaand weer het ons onsself daaraan verlustig, en dis steeds 'n bietjie oor - en boonop het hy so met sononder weer geroep en 'n platbrood vars uit die oond aangegee. Die kos is fantasties, maar die beste van als, ou Ali het ons gemis en was merkbaar verheug om ons weer te sien. Goeie tye! Prost!

Friday, October 15, 2010

Die sjef, die stoep en die serendipity

Ons eenslaapkamer 'apartamento' se kombuisdeur loop uit op 'n piepklein stoepie. 'n ristorante genaamd La Mama Trattoria se een kombuisvenster kyk uit op ons stoepie. Daar is wel 'n screen wat ons so kan sit dat ons mekaar nie kan sien nie. Maar daarvoor is ons te nuuskierig, so van dag een af al 'ciao!' en 'buon giorno' ons al met die kombuispersoneel, almal so Italiaans as prosciutto. Die Italiaans wat ons vooraf in Suid Afrika onder die knie probeer kry het, het ons natuurlik nie naastenby voorberei vir die Italiaans wat die latte hier praat nie, so natuurlik bly dit ook maar by ciao en so aan.

Eergister staan ek en Sjaka en irriteer mekaar op die stoep, en het ons eerste passievolle moerstrip vandat ons in Italia is. Ook nie lank nie, of die sjef roep deur die venster, wat direk op ons uitkyk. En daar lig hy die sifdraad op en gee 'n lywige porsie varsgebakte, warm foccacia vir ons aan op 'n tiertertversierde restaurantbord. Ons is so oorbluf, ons vergeet om te baklei (dis 'n eerste vir my daai, he he) en maak korte mette van die brood.

Ook nie veel later nie, tik tik die man met 'n mes so lank soos sy voorarm aan die raam van die venster, ek dog, o hel, daar was roofies in daai brood en nou gaan ons kak. Nee nee Melanie, ontspan daardie neurotiese Suid Afrikaanse boude, die man gee twee gawe porsies van iets aan...en dis kokende warm eiervrug lasagne, ala La Mama Trattoria styl. Ons val weg sonder voorbehoud.

Ons dink by onsself dat ons hier met ons alies in die botter geland het, en wonder of hy nou net oor die spanning in ons apartamento besluit het om in te gryp, en of daar 'n ander rede is vir die mahala munchies. Wel, ons lag soos papajas vir mekaar en vir hom en met hom en met die gode van geluk.

Volgende dag word ek wakker met 'n hemelse reuk van sjokolade, brood, lemoen, iets uit 'n storieboek. En ook nie lank nie, hier tik tik die mes en die sjef se bekende stem klink op uit die kombuis - ons moet nader staan. En wragtig, hier kom twee weereens massiewe porsies bief lasagne. Ons kan niks doen behalwe oorbluf lag en 'grazie, grazie mille' uitkry nie. Hier vat ons toe ook die kans om darem nou by mekaar se name uit te kom, en Sjaka is ook nie hoe nie, dis net 'mi chiamo Sjaka' en 'lei chiamo Melanie', die ou kyk ons aan of ons van Mars af kom, en kliek uiteindelik, en stel homself voor as Ali.

Van daar af sing ek heelpad die liedjie uit Alladin: Prince Ali, fabulous he, Ali-Abuuubu...', maar Sjaka adviseer dat ek dit liewer maar nie vir ons man gaan sing nie. Dalk is dit kultureel onsensitief, maar ou Ali lyk vir my na so 'n lekker ou Jan ek twyfel of enige iets daai massiewe glimlag van sy bakkies sal kan vee, ooit.

Wel, lang storie kort, intussen het daar ook nou al 19 stuks sjokolade biscotti (dit was die lemoen sjok brood reuk waarmee ek wakkergeword het) aangegee, asook 3 houers met interessante, heerlike groentekonkoksies, 4 soet pastries, en ek dink ek vergeet nog iets.

Interessant dat my maatjie in SA met wie ek my passie vir kos en vriet en dikvriet op die mees uitbundige manier uitleef se naam Albert is, en ek noem hom Allie...So ja Allie, die een is vir jou!