Friday, October 15, 2010

Die sjef, die stoep en die serendipity

Ons eenslaapkamer 'apartamento' se kombuisdeur loop uit op 'n piepklein stoepie. 'n ristorante genaamd La Mama Trattoria se een kombuisvenster kyk uit op ons stoepie. Daar is wel 'n screen wat ons so kan sit dat ons mekaar nie kan sien nie. Maar daarvoor is ons te nuuskierig, so van dag een af al 'ciao!' en 'buon giorno' ons al met die kombuispersoneel, almal so Italiaans as prosciutto. Die Italiaans wat ons vooraf in Suid Afrika onder die knie probeer kry het, het ons natuurlik nie naastenby voorberei vir die Italiaans wat die latte hier praat nie, so natuurlik bly dit ook maar by ciao en so aan.

Eergister staan ek en Sjaka en irriteer mekaar op die stoep, en het ons eerste passievolle moerstrip vandat ons in Italia is. Ook nie lank nie, of die sjef roep deur die venster, wat direk op ons uitkyk. En daar lig hy die sifdraad op en gee 'n lywige porsie varsgebakte, warm foccacia vir ons aan op 'n tiertertversierde restaurantbord. Ons is so oorbluf, ons vergeet om te baklei (dis 'n eerste vir my daai, he he) en maak korte mette van die brood.

Ook nie veel later nie, tik tik die man met 'n mes so lank soos sy voorarm aan die raam van die venster, ek dog, o hel, daar was roofies in daai brood en nou gaan ons kak. Nee nee Melanie, ontspan daardie neurotiese Suid Afrikaanse boude, die man gee twee gawe porsies van iets aan...en dis kokende warm eiervrug lasagne, ala La Mama Trattoria styl. Ons val weg sonder voorbehoud.

Ons dink by onsself dat ons hier met ons alies in die botter geland het, en wonder of hy nou net oor die spanning in ons apartamento besluit het om in te gryp, en of daar 'n ander rede is vir die mahala munchies. Wel, ons lag soos papajas vir mekaar en vir hom en met hom en met die gode van geluk.

Volgende dag word ek wakker met 'n hemelse reuk van sjokolade, brood, lemoen, iets uit 'n storieboek. En ook nie lank nie, hier tik tik die mes en die sjef se bekende stem klink op uit die kombuis - ons moet nader staan. En wragtig, hier kom twee weereens massiewe porsies bief lasagne. Ons kan niks doen behalwe oorbluf lag en 'grazie, grazie mille' uitkry nie. Hier vat ons toe ook die kans om darem nou by mekaar se name uit te kom, en Sjaka is ook nie hoe nie, dis net 'mi chiamo Sjaka' en 'lei chiamo Melanie', die ou kyk ons aan of ons van Mars af kom, en kliek uiteindelik, en stel homself voor as Ali.

Van daar af sing ek heelpad die liedjie uit Alladin: Prince Ali, fabulous he, Ali-Abuuubu...', maar Sjaka adviseer dat ek dit liewer maar nie vir ons man gaan sing nie. Dalk is dit kultureel onsensitief, maar ou Ali lyk vir my na so 'n lekker ou Jan ek twyfel of enige iets daai massiewe glimlag van sy bakkies sal kan vee, ooit.

Wel, lang storie kort, intussen het daar ook nou al 19 stuks sjokolade biscotti (dit was die lemoen sjok brood reuk waarmee ek wakkergeword het) aangegee, asook 3 houers met interessante, heerlike groentekonkoksies, 4 soet pastries, en ek dink ek vergeet nog iets.

Interessant dat my maatjie in SA met wie ek my passie vir kos en vriet en dikvriet op die mees uitbundige manier uitleef se naam Albert is, en ek noem hom Allie...So ja Allie, die een is vir jou!

No comments:

Post a Comment