Saturday, October 30, 2010

Sjaka en Melanie Lungarno...







Juweliersware, een van 'n soort, handgemaak, is so eie aan Ponte Vecchio ('die ou brug' op die foto) as wat dit kom. Die foto's doen die juweliersware hoegenaamd nie gunste nie, dis so ontsettend fyn en mooi.

Ons twee het hierdie keer by Ponte Vecchio regs geswaai en al langs die Arnorivier afgestap tot by die George Washington park. Die stad raak minder stad en als raak groener en jy kan skielik sien dat herfs in volle swang is. Polisie op perde (massiewe perde) ry deur die park en vra mense vir ID, en skryf boetes uit as jy dit nie by jou het nie. Hulle vra nie mense wat soos ons lyk nie, hulle blyk net mense van 'n donkerder gelaat te vra. Italia is in hierdie opsig redelik duidelik in die greep van 'n regse party.

Sjaka gaan draf elke oggend, en bekla sy lot dat hy nooit ander drawwers sien nie. Hier vind ons toe die draf-hub, en interessant genoeg, omtrent 9 uit 10 van die hordes wat hardloop is mans wat so in hulle 60's blyk te wees. Sien nie eintlik die braai en boep brigade in SA skielik bein hardloop nie...Verder poep die honde en die eienaars haal maar gedwee die sakkies uit. Gepraat van poep. Naby ons is daar 'n publieke toilet waar die in nood vir 'n skamele €0.60 hulleself kan verlig. Die outjie wat die storie bestuur daar is 'n Japannesie en hy sit elke goddelike dag daar, van omtrent 8am tot saans 10pm, op dieselfde stoel, vat nou en dan 'n smoke break, en mop nou en dan die vloer. Nou toe nou, iemand moet dit seker doen...

No comments:

Post a Comment