Insident nommer een was by die mark. Dis 'n Chinese vrou, maar sy is ook Italiaans. Sy het 'n groente en vrugte stalletjie, en dis selfhelp. Ek reik uit na 'n tamatie en sy is ook nie hoe nie, sy val weg met klanke wat soos 'n gebraak klink, al roggelend uit haar keel. Ek besef sy roggel vir my toe sy nader kom en my hand wegpluk van die tamatie. 'No squeezy! No squeezy!' skree sy op my. Simpel vroumens, ek is dan besig met selfhelp - elke dag kry ek tamaties daar. Ek kry ook nie heeltemal my vurige natuur onder beheer nie, en snou haar toe: 'I NOT squeezy! I take to BUY silly woman!' Die laaste twee woorde nie gesensor nie want sy verstaan inelkgeval nie. Koop die tamaties en slenter weg in 'n wolk van bedonnerdheid.
Paar dae later stap ek die stad weer plat en gaan in by 'n pragtige winkeltjie wat buite hulle deur gratis wyn- en olyfolie proe adverteer. Die klokkie tingeling soos ek die swaar houtdeur oopswaai en binne is 'n toergroep Amerikaners besig om te proe en te knibbel aan allerhande broodjies wat met die proe saamgaan. Op my FB is daar die einste foto wat toe die onaangename smakie in my mond gelaat het na 'n semi-gesprek met die eienaar.
Daar is die mooiste, duurste bottels balsamieke asyn op die rakke uitgestal, en 'n spesifieke bottel trek my aandag. Ek sien nie ander mense in die winkel wat fotos neem nie, en my ervarings in baie lande het my geleer om altyd te vra of dit okay sal wees om 'n foto te neem voor ek triggerhappy raak. Ek vra toe die ou, en hy kyk my aan of ek hom vra of ek 'n nommer twee kan maak op sy proetoonbank. Hy vra: 'Why do you ask me? I can say no all the time.' Sonder 'n sweempie van ironie of speelsheid of terg op sy suur gesig. Ek verduidelik dis geen probleem en is oorbluf met sy reaksie. Hy val weer weg: 'WHY do you want to take a picture in my shop?' Nee meneer, laat vaar jou paranoia, 'I think the design on the bottle is beautiful, that's all. Don't worry about it.' Tot my verbasing stem hy in. Ek kon eenvoudig nie sy skerp reaksie verstaan nie. Liewe hel, mens kan mos maar net ja of nee antwoord. Suur, suur mannetjie.
Al die fantastiese Italianers en die warm ontvangs en die dik bederf wat ons van soveel ander ervaar het, maak natuurlik duisend maal oor op vir hierdie tipe onsmaaklikhede...
No comments:
Post a Comment