Sjaka is soggens voor my uit die vere, en gisteroggend was geen uitsondering nie. Ali en hy praat gebroke Itali-engels met mekaar deur die venster en dit is soos 'n wekker vir my soggens. Sjaka kom die donker slaapkamer in met nog 'n baksel sjokolade- en vanielje vlagevulde klein croissaint'jies. Daar is ses in totaal, maar ek vind - ten spyte van my lewenslage proklamasies dat iets wat te ryk of te geil is nog nie oor my lippe is nie - dat ek nie soggens eerste ding in die pastries kan inklim nie. So Sjaka verorber vier van die ses, en ek en hy drink beide 'n espresso oor 'n paar potte rummie, terwyl ek hom vertel van my droom van die vorige nag. Vir die afgelope drie of vier nagte droom ek feature films in totaliteit, en ek is nie min beindruk met my onderbewussyn nie.
My ontbyt was oplaas toe 'n sjokolade kroestandjie en 'n halwe blok Novi sjokolade. Ja, 'n halwe slab, vir die wat wonder. Italiaanse sjokolade is hoegenaamd nie sleg nie. Na al die soet besluit ek om die stad in te vaar en vind my pad langs die Duomo en die Palazzo Vecchio verby tot ek my langs die oewers van die Arno rivier, wat deur Florence vloei, bevind. Stap verder as wat ek ooit het in die stad, en dit bly verstommend mooi om die Florentynse digbegroeide heuwels in en net om die stad te sien. Daar is baie mense wat met hulle honde stap in die stad, en ek reken meeste van hulle is getroue poopscoopers, maar die res is nie...opkyk en rondkyk vir fotoneem is nie erg bevorderlik vir hondpoepvermyding nie. So ja, laat dit maar daar.
In Via dei Malcontenti swaai ek in, glimlaggend onder die sjarme van wat ek dink beteken 'Street of discontent'. Dis stil, verweer en nie 'n siel is in sig nie. Hier tref ek die kleinste, rooiste afleweringstrokkie aan wat ek nog in my dag des lewens gesien het. Ek is so verlief met eerste oogopslag dat ek 'n ou omie wat aagestap kom nader roep, al armswaaiend en roggelend in my gebroke Italiaans. Ek vra of hy 'n foto sal neem van my by die trokkie, bietjie skaam oor my voortvarendheid, maar gedetermineerd. Hoe meer ek beduie hy moet neem, hoe meer beduie-vra hy of hy by die trokkie moet staan. Ek 'si si' oplaas, en hy haal 'n sleutel uit sy baadjiesak - dis die einste omie se voertuig.
Hy is ook nie hoe nie, hy val weg in Italiaans, ek 'non parlo Italiano, sono piu Italiano' met handgebare wat 'n sentimeter tussen twee vingers illustreer, maar onse Guisseppe steur vir hom min. Hy probeer my iets vertel van Via dei Malcontenti, en ek verstaan iets van 3 000 jaar, of is dit 1300 jaar? Hy haal ook 'n stukkie papier uit en skryf dat die biesies bewe. Ek verstaan wel dat hy probeer om my iets van die geskiedenis te vertel rakende Via dei Malcontenti, maar wat dit is, is bo my vuurmaakplek. By die huis gekom probeer ek sy skrif ontsyfer, maar daarmee kom ek ook nie ver nie. Het op Wikipedia gaan kyk na aanleiding van die bietjie van wat ek verstaan, maar daar is niks. Ek lei egter af dat of in die jaar 1300, of 1300 jaar gelede, of dalk het 1300 mense daarlangs afgemarsjeer en iemand tot dood veroordeel of is iemand se lewe daar kortgeknip, en ek dink ook iets van brandende fakkels is ter sprake. Enige iemand wat kan lig werp hierop is welkom om so te doen.
Toe ek so net voor 4pm by die huis kom, is daar geen teken van onse Sjaka nie, en op die kombuistafeltjie staan twee borde kos elk met 'n sopbak bo-oor. Lig op en daar is hoender en aartappel, in wat vir my lyk en ruik soos 'n knoffelbottersousie. Dit ruik hemels, en selfs meer so toe dit uit die mikrogolfoond kom. Ek is ook nie hoe nie en val weg, rasend honger en selfs meer lus na 'n hele dag se rondmission. Ali verskyn weldra in die venster en ek vra hom of dit knoffel, witwyn, botter is? En ek wonder en vra wat nog? Ek kan dit nie plaas nie, maar dit is erg stimulerend. Geen knoffel, geen botter, geen wyn, verseker hy my. Ek roem my nogal op my tongtippietoets vermoens en dat ek al wat 'n ding is kan uitsnuffel. Dit draai uit dat ek nie die snuffelkoningin is wat ek dink nie, maar dat daardie eer eerder aan die varke behoort...dis nou die varke wat die truffels uitgesnuffel waarvan die sous gemaak is. So dan is die hordes klein bruin spikkels in die sous niks anders as truffels nie. Dis die eerste keer wat ek 'n gereg met truffels - full on truffels mense, nie net 'n infused olie nie - eet, en dit is eenvoudig iets uit 'n ander dimensie. Die hoender en die pangeroosterde aartappeltjies is so eenvoudig berei, en goed so, want die truffels het nie nodig om te kompeteer met iets nie. It is unto itself magnificent.
Vandag is die kombuis stil en ek het nog nie vir Ali gewaar nie. Wat ek wel oor hom kan byvoeg is wat Sjaka en hy gister oor gepraat het. Ali is oorspronklik van Egipte, en hy is al 22 jaar in Italia. Hy het gekom toe hy 18 was, en beide sy ouers en sy suster is al oorlede. Hy het twee dogters, die een is 15 en die ander is 2 jaar oud. Sjaka het vertel dat hy ook wou weet of ons kinders het, en vir wat ons dan nog nie het nie. Hy wil ook sommer weet wanneer ons nou dan gaan opskud, no pun intended. Sjaka verseker hom dit gaan sommer baie gou wees. Ek verseker Sjaka dit gaan sommer nog 'n rukkie wees. Lief die idee, maar ek vermoed mens het 'n budget nodig om al daai doeke en skoolgeld te betaal.
Die internetwinkel waarvandaan ek operate word besit en bedryf deur Italianers wat hierheen gekom het van Bangladesh, en die main konyn het die mees esquisitely obvious toupee wat ek in my lewe gesien het. All in a day's work, ek gaan nou na ons apartamento vir salami, brood en olywe wat daai lekkerpit Sjaka vir ons gaan koop het.
Sal in my volgende skrywe vertel van die drolman by die olyf- en wynproe.
Ciao mi amici!
ek haat julle!
ReplyDeleteEk ook. Ek's bevrees julle gaan net vetter en vetter word. Hie-hie.
ReplyDeleteMees ironiese ding Willem? Ek raak dunner...
ReplyDelete